President Jacob Zuma: Staatsrede 2017

Staatsrede deur Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika, tydens die Gesamentlike Sitting van die Parlement, Kaapstad

Die Speaker van die Nasionale Vergadering,
Die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP),
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en adjunkvoorsitter van die NCOP, adjunkpresident Cyril Ramaphosa,
Voormalige President Thabo Mbeki, Hoofregter Mogoeng Mogoeng en al die gewaardeerde lede van die regbank,
Ministers en adjunkministers,
Premiers en speakers van provinsiale wetgewers, Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering, die hoofde van Hoofstuk 9-instellings, Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers,
Die president van die Moslem-regsraad en alle leiers van geloofsgebaseerde organisasies,
Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Dr Frene Ginwala,
Veterane van die Vryheidstryd,
Lede van die diplomatieke korps,
Mede-Suid-Afrikaners,

Good evening, sanibonani, molweni, dumelang, goeie naand, lotjhani, ri perile, ndimadekwana,

Ek dank u, agbare Speaker en agbare Voorsitter, vir hierdie geleentheid om die gesamentlike sitting van die parlement toe te spreek.

'n Uitstaande leier van ons land, President Oliver Reginald Tambo, sou vanjaar 100 jaar oud geword het indien hy nog geleef het.

Hierdie onbaatsugtige patriot het sy volwasse lewe gewy aan 'n onvermoeide strewe vir die bevryding van ons land en sy mense. Hy het 'n blywende nalatenskap vir alle Suid-Afrikaners gelaat, en nie net vir sy organisasie, die ANC, nie.

Tot sy eer het ons die jaar 2017 as die Jaar van Oliver Reginald Tambo verklaar. Dit is die jaar van eenheid in aksie deur alle Suid-Afrikaners terwyl ons saamstaan om Suid-Afrika vorentoe te beweeg.

Dit is ons voorreg om vanaand lede van die Tambo-familie hier te verwelkom: mnr Dali Tambo en sy vrou Rachel, en hul seun, Oliver Tambo Junior.

Ons onthou ook met deernis Mama Africa, Miriam Makeba, wat geskiedenis gemaak het toe sy in 1963 die Verenigde Nasies toegespreek het en 'n beroep op hulle gedoen het om teen die destydse apartheidsregime op te tree.

Ons rig 'n hartlike woord van welkom aan haar kleindogter, Zenzile Makeba Lee, en agterkleinseun, Lindelani.

Landgenote,

In hierdie 23ste jaar van ons vryheid, bly ons missie steeds die strewe na 'n verenigde, demokratiese, nie-seksistiese, nie-rassige en welvarende Suid-Afrika.

Ooreenkomstig die riglyne van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), bou ons 'n Suid-Afrika wat vry moet wees van armoede, ongelykheid en werkloosheid.

Terwyl die internasionale ekonomie steeds onseker lyk, is daar aanduidings dat ons 'n hersteltydperk betree. Ons verwag 'n ekonomiese groeikoers van 1,3% in 2017, ná 'n beraamde 0,5% in 2016.

Die ekonomie groei egter steeds nie vinnig genoeg om die nodige werksgeleenthede  te skep nie. Sommige van ons mense, insluitend jeugdiges, het al jare lank nie werk nie.

Dit is om hierdie rede dat ons besluit het om op 'n aantal sleutelareas wat as die Negepuntplan verpak is, te fokus om groei aan te vuur, sodat die ekonomie die broodnodige werksgeleenthede kan skep.

Die fokusareas sluit in industrialisasie; mynbou en veredeling; landbou en landbouverwerking; energie; klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's); bestuur van konflik in die werkplek; die lok van beleggings; ontwikkeling van die oseane-ekonomie en toerisme.

Ons het ook interdissiplinêre terreine soos wetenskap en tegnologie, water- en sanitasie-infrastruktuur, vervoerinfrastruktuur en die implementering van breëband hierby ingesluit.

Ek doen graag verslag oor die werk wat die afgelope jaar op sommige van hierdie terreine gedoen is.

Die wisselwerking wat ons verlede jaar tussen die regering, die sakesektor en arbeid geïnisieer het en as die Kern-inisiatief bekend staan, was uiters voordelig. Ons kon saam 'n aantal binnelandse uitdagings aanpak.

Ons het kredietafgradering suksesvol vermy, wat 'n baie nadelige uitwerking op ons ekonomie sou gehad het.

Ons arbeidsmarkomgewing toon ook tekens van standvastigheid danksy samewerking deur maatskaplike vennote. Die optrede van partye gedurende die loononderhandelings, veral in die platinumsektor, moet geloof word.

Eenheid in aksie is ook weer vandeesweek gedemonstreer met die sluit van ’n ooreenkoms oor die nasionale minimum loon en oor maatreëls om arbeidsbetrekkinge te stabiliseer.

Dit volg op 'n beroep wat ek op 14 Junie 2104 in die Staatsrede gedoen het.

Ons wens die adjunkpresident en die span by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en- Arbeidsraad geluk met hierdie mylpaal en wens hulle alles van die beste toe vir die werk wat nog gedoen moet word.

Landgenote,

Die uitbreiding van basiese dienste aan al ons mense het die afgelope jaar voortgegaan in ons strewe na 'n beter lewe vir almal. Tot op hede is byna sewe miljoen huishoudings aan die nasionale kragnetwerk gekoppel, en hulle het dus nou toegang tot elektrisiteit.

Die suksesvolle uitvoering van Eskom se Bou-en-instandhoudingsprogram  het stabiliteit help verseker en beurtkrag  beëindig.

Werk gaan voort om energiesekerheid te verseker. Hernubare energie vorm 'n belangrike deel van ons energiemengsel, wat ook die opwekking van elektrisiteit uit gas, kernkrag, sonkrag, wind, hidrokrag en steenkool insluit.

Die regering is verbind tot die Onafhanklike Kragprodusenteprogram en ons brei die program uit na ander bronne van energie soos steenkool en gas, bo en behalwe hernubare energie.

Eskom sal die uitstaande ooreenkomste vir die aankoop van hernubare energie in ooreenstemming met verkrygingsrondtes onderteken.

Die regering werk hard om betroubare grootmaatwatervoorsiening in die verskillende dele van die land te verseker om ekonomiese groei te bevorder, en terselfdertyd ook toegang vir kwesbare en landelike munisipaliteite te verbeter.

In 'n poging om groot waterverliese te beperk, wat in sommige munisipaliteite ver bó die gemiddeld van 37% is, word ongeveer 10 000 werklose jong mense tans as loodgieters, ambagsmanne en wateragente opgelei. Nog meer mense sal vanjaar gewerf word, om altesaam 15 000 te bereik.

Ons doen 'n beroep op alle munisipaliteite om die program "Oorlog teen Lekplekke" te ondersteun.

Ons gaan voort om ingevolge die Inisiatief vir die Lewering van Versnelde Skoolinfrastruktuur moderne skole te bou om modderstrukture en ander ondoelmatige geboue te vervang. Dit verleen waardigheid aan ons kinders.

Altesaam 173 ondoelmatige strukture is sedert 2011 afgebreek. Altesaam 895 nuwe skole voorsien nou 'n bevorderlike leeromgewing vir ons kinders.

Met die oog op die bevordering van belegging het die regering InvestSA ingestel, 'n "eenstopsentrum" vir belegging wat landwyd funksioneer.  Provinsiale sentrums sal ook in KwaZulu-Natal, Gauteng en die Wes-Kaap geopen word. Die boodskap aan die betrokke staatsdepartemente is duidelik: Daar moet geen onnodige vertragings en geen onnodige burokratiese rompslomp wees nie. Van die uitreiking van lisensies tot visums moet ons dit maklik maak om sake in Suid-Afrika te doen.

Landgenote,

President Oliver Reginald Tambo was 'n Wiskunde- en Wetenskaponderwyser. Die regering sal dus ter nagedagtenis aan hom vanjaar, meer as ooit vantevore, wiskunde en wetenskap prioritiseer.

Onlangse internasionale toetsuitslae lyk belowend.

Die uitslae in die Trends in International Mathematics and Science Study en die Suider- en Oos-Afrika Konsortium vir die Monitering van Onderwysgehalte dui daarop dat die prestasie van Suid-Afrikaanse leerders besig is om te verbeter.

Van al die deelnemende lande het Suid-Afrika die grootste verbetering getoon, naamlik 87 punte in Wiskunde en 90 punte in Wetenskap.

Dit is uiters verblydend aangesien ons nie wil hê dat ons kinders ’n agterstand moet hê nie.

Ons belegging in wetenskap en tegnologie toon dus resultate.

Sedert Suid-Afrika met die ondersteuning van sy agt Afrika-vennote die bod as gasheer van die Square Kilometre Array-teleskoop (SKA) gewen het, is aansienlike vordering gemaak met die bou van hierdie mega-wetenskapprojek, met die gepaardgaande voordele.

Saam met sy voorganger, die MeerKAT-teleskoop, lewer die SKA-projek steeds belangrike bydraes tot sosio-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika.

Die Departement van Wetenskap en Tegnologie werk ten nouste saam met die bedryf om 'n tegnologie-lokaliseringstrategie te implementeer. Dit het verseker dat die R2 miljard se MeerKAT-teleskoop met 75% plaaslike inhoud gebou is.

Hierdie samewerking het gelei tot werkskepping in die Noord-Kaap en diversifisering van die ekonomie deur werksgeleenthede te skep vir ambagsmanne en instandhoudingswerkers, asook die bevordering van wetenskap as 'n voorkeurloopbaan.

Wat padinfrastruktuur betref, het SANRAL begin met die beplanningsfase van die R4,5 miljard-projek om die huidige Molotopad op te gradeer.

Sakha umgwaqo kanye nololiwe ku Moloto Road ukuze kuphephe izimpilo zabantu ngoba izingozi sezithathe imiphefumulo eminingi kuleyandawo.

(Die Molotopad en 'n spoorlyn is tans in aanbou met die doel om padgebruikers se veiligheid te verseker en ook 'n einde te bring aan die talle ongelukke op die pad wat al soveel lewens geëis het.)

Suid-Afrika het ook gedurende 2016 'n samewerkingsooreenkoms met die Volksrepubliek van China onderteken om die Moloto-spoorontwikkelingskorridor te bou.

In 2014 het ons Operasie Phakisa se Big Fast Results-metodologie in die oseaan-ekonomie-, gesondheid-, onderwys- en mynbousektor bekendgestel. Die oogmerk was om 'n paar sleutelprojekte te vind waar ons groei kon ontsluit in die implementering van die NOP.

Al die projekte vorder goed.

Die Suid-Afrikaanse Vloot neem ook aan die Operasie Phakisa-projek deel en is besig met voorbereidings vir die staatsgarage-konsep vir alle vaartuie in staatsbesit in Simonstad. Dit sluit die instandhouding en herstel van vaartuie in staatsbesit in deur die nuut ingestelde vennootskap tussen die Suid-Afrikaanse Vloot, Krygkor en Denel.

Ons het toerisme as 'n sleuteldryfkrag vir werkskepping identifiseer. Ons is dus verheug dat ons toeriste-aankomsyfers vir die tydperk Januarie tot November 2016 tot nege miljoen gestyg het, 'n toename van net meer as 'n miljoen aankomste vergeleke met 2015. Dit verteenwoordig 'n toename van 13% in toeristeaankomste.

Die regering bedryf doeltreffende armoedeverligtingsprogramme, soos die Uitgebreide Openbarewerkeprogram (UOWP). Daarbenewens ontvang bykans 17 miljoen mense, hoofsaaklik ouer mense en kinders, tans maatskaplike toelaes. Talle families sou nie kos op die tafel kon sit as dit nie vir hierdie maatskaplike toelaes was nie.

Die EPWP het sedert 2014 meer as twee miljoen werksgeleenthede geskep om die doelwit van ses miljoen werksgeleenthede teen die einde van Maart 2019 te bereik. Meer as een miljoen van die werksgeleenthede wat geskep is, is deur jeugdiges gevul.

Gedurende 2015/2016 is meer as 61 000 werksgeleenthede geskep deur omgewingsprogramme soos Werk vir Water, Werk vir Vleilande, Werk met Vuur en Werk vir Ekostelsels. Meer as 60% van die bevoordeeldes was jongmense.

Die regering, in samewerking met die samelewing, bestry maatskaplike euwels wat ons gemeenskappe uitmekaar skeur, soos die misbruik van dwelms en ander skadelike stowwe. Gemeenskappe van Soshanguve tot Rosettenville, of KwaMashu tot die Kaapse Vlakte beleef krisisse weens dwelmmisbruik.

Bo en behalwe wetstoepassing is die voorsiening van behandelings- en voorkomingsdienste ook van kritieke belang.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is besig om nuwe openbare behandelingsentrums te bou in provinsies waar daar nie sulke geriewe bestaan nie, naamlik in die Noord-Kaap, Noordwes, Limpopo, die Vrystaat en die Oos-Kaap.

As ons almal saamwerk, sal ons ons jeug van dwelms red.

Wat gesondheidskwessies betref, is die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ons vlagskipprojek wat daarop gerig is om universele gesondheidsdekking vir Suid-Afrika te verseker.

Die NGV sal in drie fases oor 'n tydperk van 14 jaar geïmplementeer word.

Ons is tans in die eerste fase, naamlik die voorbereidingsfase, wat in 2012 begin het.

Landgenote,

Ons is geweldig ontsteld oor die dood van soveel psigiatriese pasiënte in Gauteng.

Geestelik ongestelde pasiënte is van die mees weerlose mense van die samelewing en moet deur die staat en die samelewing in die algemeen beskerm word. Ek het die Minister van Gesondheid opdrag gegee om te verseker dat die aanbevelings van die gesondheidsombudsman ten volle en spoedig, sonder enige voorbehoude, geïmplementeer word.

Ons verwelkom die aanbeveling van die gesondheidsombudsman dat daar 'n dringende behoefte bestaan om die Nasionale Gesondheidswet (Wet 61 van 2003) asook die Geestesgesondheidswet, 2002 (Wet 17 of 2002) te hersien, met die oog daarop dat die Minister van Gesondheid bepaalde magte en funksies terugkry.

Ons betuig weereens ons innige meegevoel met die naasbestaandes van die oorledenes.

Die regering sal ondersteuning bied aan families sodat hulle nie hierdie las alleen hoef te dra nie. Die premier van Gauteng en die Minister van Gesondheid het alreeds hierdie versekering gegee.

Heelwat meer werk is die afgelope jaar gedoen met die implementering van die Negepuntplan en al ons programme. Ministers sal tydens hul begrotingsredes verder oor hierdie programme verslag doen.

Agbare lede,

Ek wil nou praat oor ons prioriteite vir die komende jaar.

Politieke vryheid op sigself is onvolledig sonder ekonomiese emansipasie.

Oliver Tambo het hierdie missie duidelik uitgestippel tydens 'n herdenkingsvergadering van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in 1981.

Hy het gesê:

“Die doel van ons stryd in Suid-Afrika, soos dit in die Vryheidshandves uiteengesit word, sluit ekonomiese emansipasie in. Dit is ondenkbaar dat bevryding betekenisvol kan wees sonder dat die land se rykdom aan die mense as geheel teruggegee word.

“Om die bestaande ekonomiese kragte toe te laat om hul belange onveranderd te behou, is om die wortels van rasseheerskappy en uitbuiting te voed, en verteenwoordig nie eers die skaduwee van bevryding nie.

“Dit is dus 'n fundamentele kenmerk van ons strategie dat oorwinning meer as formele politieke bevryding moet omsluit; en ons stryd vir nasionale emansipasie moet ekonomiese emansipasie insluit.”

Wat bedoel ons met radikale sosio-ekonomiese transformasie?

Ons bedoel fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings en patrone van eienaarskap, bestuur en beheer van die ekonomie ten gunste van alle Suid-Afrikaners, veral arm mense, waarvan die meerderheid swart vroue is soos deur die regerende party omskryf word.

Twee-en-twintig jaar ná die verkryging van ons vryheid en demokrasie is die meeste swart mense steeds ekonomies ontmagtig. Hulle is ontevrede met die ekonomiese voordele van bevryding.

Die gaping tussen die jaarlikse gemiddelde huishoudelike inkomste van huishoudings met swart Afrikane aan die hoof en dié van hul blanke eweknieë bly skokkend groot.

Blanke huishoudings verdien minstens vyf maal meer as swart huishoudings, volgens Statistiek SA.

Die situasie met betrekking tot die eienaarskap van die ekonomie weerspieël ook dié van huishoudelike inkomste.

Slegs 10% van die top 100 maatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs word deur swart Suid-Afrikaners besit, wat hoofsaaklik direk verkry is deur die kodes vir swart ekonomiese bemagtiging ingevolge die Nasionale Bemagtigingsfonds.

Die tempo van transformasie in die werkplek, die implementering van regstellende-aksiebeleid soos deur die Wet op Gelyke Indiensneming, 1998 (Wet 55 van 1998) vereis word, bly ook uiters stadig.

Ingevolge die 2015/16-inligting wat aan die Kommissie vir Diensbillikheid verskaf is, beloop die verteenwoordiging van blankes op topbestuursvlak 72%, terwyl verteenwoordiging van swart Afrikane slegs 10% beloop.

Die verteenwoordiging van kleurlinge is 4,5% en Indiërs 8,7%.

Die verslag meld verder dat blanke Suid-Afrikaners, veral mans, hoër vlakke van werwing, bevordering en opleidingsgeleenthede geniet vergeleke metaangewese groepe.

Wat betref geslag op seniorbestuursvlak, oorheers mans steeds teen 67,6% en vroue verteenwoordig 32,4%.

Die ongebalanseerdeheid van eienaarskap- en leierskappatrone moet reggestel word. Daar kan nie in 'n ekonomie enige sprake van volhoubaarheid wees as die meerderheid mense só daarvan uitgesluit word nie. In my gesprekke met die sakegemeenskappe het hulle hierdie imperatiewe vir transformasie aanvaar.

Ons begin vandag met 'n nuwe hoofstuk van radikale sosio-ekonomiese transformasie. Ons sê dat ons verder as blote lippetaal moet gaan en praktiese programme moet implementeer.

Die staat sal 'n rol in die ekonomie speel om hierdie transformasie te dryf. In dié verband sal die regering die strategiese hefbome wat tot die staat se beskikking is, ten volle benut.

Dit sluit in wetgewing, regulasies, lisensiëring, begroting en verkryging asook handveste vir Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging om die privaat sektor se optrede te beïnvloed en transformasie te dryf.

Die staat bestee jaarliks R500 miljard per jaar aan die aankoop van goedere en dienste en het ook ’n infrastruktuurbegroting van R900 miljard. Hierdie begrotings moet gebruik word om ekonomiese transformasie te bereik.

As eerste stap is die nuwe regulasies wat dit verpligtend maak dat groot kontrakteurs 30% van hul besigheid aan ondernemings in swart besit subkontrakteer, gefinaliseer en op 20 Januarie in die Staatskoerant gepubliseer.

Die regering sal deur sulke regulasies en programme die staat se koopkrag kan gebruik om klein sakeondernemings, landelike en township-ondernemings asook aangewese groepe te bemagtig en plaaslike nywerheidsontwikkeling te bevorder.

Twee sleuteluitdagings waarvoor ons te staan kom, is die hoë vlakke van konsentrasie in die ekonomie en die samespanning en kartels, wat klein rolspelers verdring en die toetrede van jong entrepreneurs en swart nyweraars belemmer.

Die mededingingsowerhede het uitstekende werk gedoen om die kartels aan die kaak te stel en hulle wetsoortredings te straf.

Ek het verlede jaar 'n wetsbepaling om die kartels en samespanning te kriminaliseer, onderteken en dit het op 1 Mei in werking getree. Dit maak voorsiening vir die oplegging van gevangenisstraf van tot 10 jaar.

Ons versterk nou ons optrede om die ander uitdaging, naamlik ekonomiese konsentrasie, waar 'n klein groepie die grootste deel van die mark beheer, die stryd aan te sê.

In die loop van die jaar sal die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling wetgewing aan die kabinet voorlê ter wysiging van die Wet op Mededinging, 1998 (Wet 89 van 1998). Dit sal onder meer fokus op die behoefte om 'n meer inklusiewe ekonomie te skep en om die hoë vlakke van eienaarskap en beheer wat ons in baie sektore sien, te dekonsentreer. Ons sal dan die wetgewing aan die parlement voorlê vir oorweging.

Op dié manier wil ons die ekonomie vir nuwe rolspelers oopstel, vir swart Suid-Afrikaners geleenthede in die ekonomie gee en help om die ekonomie meer dinamies, mededingend en inklusief te maak. Dit is ons visie van radikale ekonomiese transformasie.

Landgenote,

Die regering is aktief in die eiendomsektor betrokke, en het sedert 1994 reeds meer as vier miljoen huise voorsien.

Hierdie sektor in ons land word op ongeveer R7 triljoen beraam, en die gesubsidieerde sektor op R1,5 triljoen.

Minder as 5% van die sektor word egter deur swart mense, en Afrikane in die besonder, besit of bestuur. 'n Konsepwetsontwerp op Eiendomspraktisyns sal deur die Departement van Menslike Nedersettings vir openbare kommentaar gepubliseer word met die oog op die daarstelling van 'n meer inklusiewe, verteenwoordigende sektor en radikale ekonomiese transformasie.

Sleutelprioriteite vir vanjaar sluit onder meer in dat die regering ook aandag sal gee aan die toenemende vertragings en agterstande in die registrasie en uitreiking van titelaktes aan begunstigdes van behuisingsprojekte wat deur die kapitaalsubsidie befonds word.

Landgenote,

Ons herbeklemtoon dat radikale ekonomiese transformasie baie meer moet behels as blote skemas om aandele te besit.

Ons wil toesien dat swart mense direk in die sakesektor betrokke raak en fabrieke besit. Die ontwikkeling van die Swart Nyweraarsprogram is dus noodsaaklik.

Die program het sedert sy instelling meer as 22 entrepreneurs ondersteun.

Die regering het ook geleenthede in die Departement van Openbare Werke se projekte vir eiendomsinstandhouding geskep.

Die departement sal vanjaar ongeveer R100 miljoen in kritieke kapitaal- en instandhoudingsprogramme om hawens te moderniseer, belê. Hulle sal ook voortgaan om inkomste te genereer uit die verhuring van hawens en kuslyn-eiendomme in staatsbesit, wat KMMO's in swart besit sal bevoordeel.

Die regering sal ook voortgaan om beleide na te streef ter uitbreiding van die deelname van swart mense en KMMO's in die inligtings-en-kommunikasietegnologiesektor, insluitend dié wat deur vroue en jeugdiges besit word.

Ons verseker die jeug dat die vermindering van datakoste 'n sleutelprioriteit in ons beleid en planne is.

Landgenote,

Mynbou was nog altyd die ruggraat van ons ekonomie en 'n belangrike verdiener van buitelandse valuta.

Ons verwelkom die herstel in kommoditeitspryse, wat tot 'n opswaaifase in mynbouproduksie gelei het. Dit is 'n goeie voorteken vir die bedryf.

Die Mynbouhandves word tans hersien. Die handves verleen erkenning van die internasionaal aanvaarde reg van die staat om soewereiniteit oor al die mineraal- en petroleumhulpbronne in die Republiek uit te oefen.

Dit is ook daarop gerig om die land te help om die eienaarskap van die mynboubedryf te derassifiseer. Dit sal help om die volhoubaarheid van hierdie bedryf te verseker.

Ons vertrou dat samesprekings tussen die regering en die sakesektor oor die handves positiewe resultate sal oplewer, sodat die proses gefinaliseer kan word.

Ons sal voortgaan om direkte staatsbetrokkenheid by mynbou na te streef. Die Wetsontwerp oor die Suid-Afrikaanse Mynmaatskappy sal in die loop van die jaar aan die Kabinet en Parlement voorgelê word.

Die Wysigingswetsontwerp op Minerale- en Petroleumhulpbronontwikkeling is na die Parlement terugverwys om aandag te gee aan kwessies rakende die openbare-oorlegplegingsproses wat deur provinsiale wetgewers onderneem is.

Ons vertrou dat dit sonder verdere vertraging verwerk en vir finalisering teruggestuur sal word, sodat die knelpunte rakende onsekerheid wat deur die sakesektor geopper is uit die weg geruim kan word.

Die regering gaan voort om met ander belanghebbers saam te werk om onwettige mynbouaktiwiteite teen te werk ten einde lewens te red en die onwettige handel in edelmetale en diamante te voorkom.

Ons herbeklemtoon ook steeds die gesondheid en veiligheid van mynwerkers, wat uiters noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van die mynbousektor. Deur met die mynmaatskappye saam te werk, verseker ons dat werkers se lewens te alle tye beskerm word.

Die tragiese ongeluk wat vroeër in 2016 by Lily-myn in Mpumalanga plaasgevind het, is die eerste van sy soort sedert die aanbreek van demokrasie.

Die families ervaar geweldige pyn en frustrasie.

Landgenote,

Dit sal moeilik wees, indien nie onmoontlik nie, om ware versoening te bereik tot tyd en wyl die grondkwessie opgelos is.

Slegs agt miljoen hektaar bewerkbare grond is aan swart mense oorgedra, wat net 9,8% van die 82 miljoen hektaar bewerkbare grond in Suid-Afrika vorm.

Daar was ook 'n afname van 19% in huishoudings wat by landbou betrokke is, van 2,9 miljoen in 2011 tot 2,3 miljoen huishoudings in 2016.

Ons het reeds verwys na ons voorneme om die Onteieningswet, 1975 (Wet 63 van 1975) te gebruik om grondhervorming en grondherverdeling in ooreenstemming met die Grondwet te bewerkstellig. Ek het nou besluit om die Wetsontwerp na die Parlement vir heroorweging terug te verwys, op grond daarvan dat dit dalk nie aan grondwetlike vereistes sal voldoen nie weens onvoldoende openbare deelname tydens die proses.

Ons vertrou dat die Parlement spoedig aan die vereistes sal voldoen sodat die wet gefinaliseer kan word om transformasie te bewerkstellig.

Die heropening van grondeise is ook tydelik gestaak omdat die Wysigingswet op Herstel van Grondregte, 2014 (Wet 15 van 2014) deur die Konstitusionele Hof ongeldig verklaar is.

Die Konstitusionele Hof het bevind dat die openbare-oorlegplegingsproses wat deur die NRP en 'n aantal provinsiale wetgewers gefasiliteer is, nie aan die standaard wat in die Grondwet bepaal word voldoen het nie.

In die toekoms sal die regering voortgaan om ander programme te implementeer, soos die program vir die Versterking van die Relatiewe Regte van Mense wat die Grond Bewerk, wat ook as die 50-50-program bekend staan.

In hierdie program vorm die plaaswerkers 'n regspersoon. Hulle vorm dan saam met die plaaseienaar 'n nuwe maatskappy en die werkers en die eienaar word gesamentlike eienaars.

Tot op hede is 13 voorstelle reeds goedgekeur, wat 921 huishoudings van plaasbewoners ten bedrae van R631 miljoen bevoordeel. Ons loof boere en plaaswerkers vir hierdie innovering.

Ons doen 'n dringende beroep op grondeisers om eerder grond in plaas van finansiële vergoeding te aanvaar. Meer as 90% van alle eise word tans deur finansiële vergoeding bygelê, wat hoegenaamd nie die proses bevorder nie. Dit sit bloot onteiening voort en ondermyn ook ekonomiese bemagtiging.

Die regering het hom daartoe verbind om swart kleinboere te ondersteun.

Ek het 'n memorandum ontvang van die Vereniging vir Afrika-boere van Suid-Afrika, waarin hulle sê dat 2017 die jaar van die kommersialisering van die swart kleinboere moet wees.

Die regering sal weliswaar 'n program ter ondersteuning van kommersialisering vir 450 swart kleinboere in werking stel.

Ons moedig meer mense aan om boerdery as ’n loopbaan te oorweeg. Een van my spesiale gaste vandag is 2016 se Vroueboer van die Jaar, Vanecia Janse, van die Koukamma-munisipaliteit in die Oos-Kaap.

Landgenote,

Ons boere gaan die afgelope jaar deur 'n moeilike tyd as gevolg van die droogte.

Tot op hede is 'n beraamde bedrag van R2,5 miljard bewillig vir die voorsiening van veevoer; waterinfrastruktuur; die boor, toerusting en opknapping van boorgate; veilingverkope en ander tussenkomste.

Daarbenewens het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Landbank ongeveer R500 miljoen aan droogtegeteisterde boere beskikbaar gestel om hulle te help om hul kredietfasiliteite te bestuur en hulle met sagte lenings te ondersteun.

Landgenote,

President Oliver Reginald Tambo was 'n kampvegter vir vroueregte.

Die bemagtiging van vroue in alle regeringsprogramme sal 'n hoofstroomtema bly.

Die regering sal ook voortgaan om voorkeur te verleen aan toegang tot ekonomiese geleenthede vir vroue en, in die besonder, tot sakefinansiering en krediet.

Dit is die vryheid waarvoor heldinne van die Vryheidstryd, soos wyle Dora Tamana van Gugulethu hier in Kaapstad, geveg het. Ek is verheug om haar seun, Mongezi Tamana, vandag as ons gas hier te verwelkom.

Landgenote,

In Desember 2015 het universiteitstudente hul kommer oor die koste van hoër onderwys uitgespreek.

Hulle het tereg daarop gewys dat opgelope skuld en vinnig stygende studiegelde dit al hoe moeiliker maak vir diegene uit minder bevoorregte huishoudings om toegang tot die onderwysstelsel te kry en deel daarvan te bly totdat hulle hul studies voltooi.

Dit is om hierdie rede dat, wanneer universiteitstudente hul opregte kommer oor uitsluiting van universiteite uitgespreek het, ons besorgde regering op 'n toepaslike wyse gereageer het deur die verantwoordelikheid om die styging in studiegelde vir die 2016-akademiese jaar oor te neem.

Die regering het al die skuld wat deur studente van die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS) verskuldig is, terugbetaal en die dekking na meer studente as ooit tevore uitgebrei.

Tydens die tertafellegging van 2016 se Mediumtermynbegroting het die regering bykomende maatreëls aangekondig wat daarop gerig is om hoër onderwys meer toeganklik te maak vir meer studente uit werkersklasfamilies.

Die regering het fondse voorsien om te verseker dat geen student wie se gesamentlike gesinsinkomste minder as R600 000 per jaar is, studiegeldverhogings aan universiteite en TVET-kolleges vir 2017 sal hoef te betaal nie.

Alle studente wat vir NSFAS kwalifiseer en wat deur universiteite en TVET-kolleges aanvaar is, sal befonds word. Die universiteitskuld van NSFAS-kwalifiserende studente vir die 2013-, 2014- en 2015- akademiese jare is vereffen. Die regering het altesaam R32 miljard met regeringsbasislyne geprioritiseer ter ondersteuning van hoër onderwys.

Ons verseker sodoende dat ons verdienstelike studente kan studeer sonder enige vrees dat hul vorige skuld hulle sal verhoed om hul studies te voltooi.

In die oorblywende paar jaar van hierdie administrasie sal ons beleide direk reageer op die volgende knelpunte wat die studente op die tafel geplaas het:

Eerstens het die studente hul kommer uitgespreek dat die NSFAS-drempel van R122 000 te laag is. Ons sal hierdie saak moet ondersoek met die oog daarop om die drempel in die toekoms op 'n gefasseerde basis te verhoog.

Die studente het tweedens daarop gewys dat die volle koste van studie aan sommige universiteite hoër is as die subsidie wat deur NSFAS voorsien word.

Gevolglik loop die skuld van NSFAS-studente aan sommige universiteite wat hoër gelde hef, op. Ons regeringsgeïnisieerde prosesse is alreeds besig om ook hierdie kwessie te ondersoek.

Agbare lede en mede-Suid-Afrikaners, studente en hul ouers moet verstaan dat die behoefte aan dienste soos water, sanitasie, vroeë kinderontwikkeling en goeie openbare vervoer, saam met toegang tot gehalte hoër onderwys en opleiding, ook aandag moet geniet.

Ons verbintenis tot volhoubare oplossings vir die befondsing van die maatskaplike loon in die algemeen, en  onderwys in die besonder, bly egter onwrikbaar.

Namate die prosesse wat ons aan die gang gesit het tot 'n einde kom, soos die Heher-kommissie; die Ministeriële Taakspan; wyer gesprekvoering met studente, leierskap van universiteite en tegniese beroepsonderwys en opleiding en die burgerlike samelewing, sal ons hulpbronne vind om ons beleide uit te voer.

Ek nooi alle belanghebbers uit om aan die huidige prosesse deel te neem, sodat niemand se siening buite rekening gelaat word nie.

Geen goeie idee moet uitgesluit word nie. Sodra die grootste gedeelte van die samelewing saamstem oor wat om te doen, sal die regering stappe doen om hulpbronne te herprioritiseer en die oplossings op 'n gefasseerde grondslag te implementeer.

Kom ons raak betrokke om die allerdringendste behoeftes te identifiseer en ons beperkte hulpbronne dienooreenkomstig toe te wys. Kom ons bou ons selfstandigheid en beweeg vorentoe in die gees van eenheid.

Landgenote,

Die stryd teen misdaad is 'n topprioriteit. Die polisie sal sigbare polisiëring verhoog, en voortbou op die suksesvolle patroon van ontplooiings gedurende die Veldtog vir 'n Veiliger Feesseisoen.

Hulle sal ook bepaalde gespesialiseerde vermoëns gebruik, soos die taktiese-reaksiespanne en nasionale intervensie-eenhede, om in problematiese hoëmisdaadgebiede te help.

Ons het verlede week 'n boodskap uit Soshanguve ontvang dat misdaad hoogty vier in Blok L en dat motorkapings en rooftogte algemeen is. Dit is sulke gemeenskappe wat sterker vennootskappe met die polisie moet bou om te verseker dat hulle nie slagoffers van misdadigers word nie.

Ander maatreëls om misdaad op nasionale vlak te bekamp, is die instelling van gespesialiseerde eenhede wat op dwelmverwante misdade, taxi-geweld en vuurwapens fokus, asook beter benutting van ondersoekhulpmidddels soos forensiese leidrade.

Die polisie sal ook die benutting van die DNA-databasis in die identifisering van verdagtes versterk.

Ons doen 'n ernstige beroep op die publiek om met die polisie saam te werk om veiliger gemeenskappe te verseker.

Landgenote,

Ons verwelkom die afname in voorvalle van renosterstropery sedert Oktober 2015, die eerste keer in 'n dekade. Dit is die gevolg van intensiewe gesamentlike operasies deur wetstoepassingsagentskappe.

Landgenote,

Een van die strategieë om misdaad te bestry, is om te verseker dat diegene wat uit die gevangenis vrygelaat word, nie weer misdade pleeg nie.

Die Departement van Korrektiewe Dienste sit sy harde werk voort om gevangenisse deur die aanbieding van verskeie dienste in korrektiewe sentrums te omskep. Nakoming van parool- en proefvoorwaardes het gevolglik verbeter tot 'n historiese hoogtepunt van 98%.

Die land het ook goeie vordering gemaak met die vermindering van die aantal kinders in korrektiewe sentrums.

Landgenote,

Die bevordering van toegang tot geregtigheid het verlede jaar groter betekenis gekry met die opening van ’n hooggeregshof-afdeling in Limpopo in November.

Die hooggeregshof in Mpumalanga sal gedurende hierdie finansiële jaar voltooi word. Die inwerkingtreding van hierdie twee hooggeregshowe beteken dat ons nou die doelwit om 'n hooggeregshof in elke provinsie in die land te vestig, verwesenlik het.

Landgenote,

Die stryd teen korrupsie duur voort. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid het 389 beslagleggingsake ter waarde van R349 miljoen afgehandel.

Hulle het 326 bevriesingsbevele ter waarde van R779 miljoen bekom.

Altesaam R13 miljoen is die afgelope jaar teruggevind in sake waar regeringsamptenare by korrupsie en ander verwante oortredings betrokke was.

Landgenote,

Oliver Tambo het reeds in 1977 die toon aangegee vir ons land se buitelandse beleid, toe hy die eerste Kongres van die Angolese bewindhebbende party MPLA toegespreek het:

“Ons streef daarna om in vrede met ons bure en die volke van die wêreld saam te leef in omstandighede van gelykheid, wedersydse respek en gelyke voordeel”.

Dit is ’n eer vir Suid-Afrika  om vanaf Augustus 2017 as voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) op te tree. Ons sal tydens ons ampstermyn die implementering van die SADC se Nywerheidstrategie bespoedig.

Ons versnel die integrasie-agenda deur die implementering van die SADC-COMESA-Oos-Afrika-gemeenskap se vryhandelsgebied.

Ons sal ons betrokkenheid by ons bemiddelingspogings, vredebewaringsoperasies en inisiatiewe om vrede te bewerkstellig in Lesotho, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Burundi, Mosambiek, Suid-Soedan, Somalië en Libië voorsit. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verteenwoordig ons land goed in hierdie vredesendings.

Handel met ons tradisionele vennote in die weste bly ook 'n beduidende bydraer tot ons ekonomie.

Ons sal steeds in vennootskap met die Verenigde State saamwerk oor kwessies van wedersydse belang, soos die volledige hernuwing van die Wet op Groei en Ontwikkeling in Afrika.

Ons stel ons verhouding met die Volksrepubliek van China hoog op prys. China is een van Suid-Afrika se belangrikste strategiese vennote. Ons erken die PRC as die enigste regering wat die hele China verteenwoordig.

Suid-Afrika herbeklemtoon sy posisie en verbintenis tot die ‘One China Policy’ en ons beskou Taiwan as 'n onlosmaaklike deel van die PRC.

Op die vlak van kontinentale vennootskappe, bly die Gesamentlike Afrika-EU-strategie 'n belangrike langtermynraamwerk vir voortgesette samewerking.

Die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms met die EU het in September 2016 in werking getree, waardeur nuwe geleenthede vir marktoegang vir Suid-Afrikaanse produkte geskep word.

Byna alle Suid-Afrikaanse produkte, ongeveer 99%, sal voorkeurmarktoegang in die EU geniet.

Ongeveer 96% van die produkte sal toegang tot die EU-mark kry sonder om aan doeaneregte of kwantitatiewe beperkings onderhewig te wees.

Die voorkeurhandelsooreenkoms tussen die Suider-Afrikaanse Doeaneunie en Mercosur, wat voorkeurtoegang aan meer as 1 000 tarieflyne verleen, het ook in werking getree. Hierdie ooreenkoms bevorder Suid-Suid-handel.

Ons koöperatiewe vennootskappe met ander streke werp vrugte af. Die vordering van die nuwe BRICS-ontwikkelingsbank lyk bemoedigend.

Ons verwelkom die BRICS-staatshoofde en -regerings se besluit in Goa om die BRICS-graderingsagentskap in die lewe te roep, sodat ons mekaar kan help met die evaluering van ons ekonomieë.

Ons is ook verheug oor die ooreenkomste met ons BRICS-vennote op die gebied van landbou. Ons sal afset-ooreenkomste oor die uitvoer van peulgroente, mango's en varkvleis na Indië implementeer.

Ons sal ook 20 000 ton beesvleis per jaar na China uitvoer, vir 'n tydperk van 10 jaar.

Ons sal voortgaan om ons vir die hervorming van die internasionale stelsel te beywer, omdat die huidige konfigurasie die vermoë van ontwikkelende lande om betekenisvolle bydraes te lewer en voordeel te trek, ondermyn.

Dit is vanjaar die 50ste herdenking van die besetting van Palestina.

Die uitbreiding van Israeli-nedersettings ondermyn internasionale pogings wat op die verwesenliking van die tweestaatoplossing en die Oslo-verdrag gerig is. Ons herbevestig ons steun vir die Palestynse saak.

Insgelyks hoop ons dat die hertoelating van Marokko tot die Afrika-unie as katalisator sal dien om die Wes-Saharakwessie op te los.

Laat ek byvoeg dat Weermagdag op 21 Februarie 2017 in Suid-Afrika gebruik sal word om die tragiese keldering van die SS Mendi 100 jaar gelede in 1917 waartydens 646 soldate gesterf het, te gedenk.

Landgenote,

Die Grondwet verleen gelyke regte en waardigheid aan alle Suid-Afrikaners. Die Verenigde Nasies het 13 Junie tot Internasionale Albinisme-bewustheidsdag verklaar. Ons moet hierdie dag gebruik om bewustheid te verhoog en die diskriminasie en leed waaraan ons landgenote met albinisme onderwerp word, uit te roei.

Siyagcizelela ukuthi abantu abanebala elimhlophe bangabantu, bafana nabo bonke abantu ezweni. Akuphele ukubahlukumeza. Aziphele nezinkolelo ezingekho ngabo.

(Ons beklemtoon ook dat mense met albinisme mense soos alle ander is. Kwetsende optrede teen hulle moet ophou. Die mite oor albinisme moet ook gestaak word.)

Ek stel u graag voor aan me Nomasonto Mazibuko, die uitvoerende direkteur van die Albinismevereniging van Suid-Afrika, wat een van my spesiale gaste is.

Die sportgemeenskap het tragies een van sy gunsteling seuns, Joost van der Westhuizen, vroeër vandeesweek verloor. Die musiekbedryf het die gewilde gospelmusikante, Sifiso Ncwane and Lundi Tyamara, onlangs verloor, asook die maskandi-musikant, Nganeziyamfisa.

Ons betuig ons meegevoel met die heengaan van hierdie openbare figure wat tot die land se sport en kunste bygedra het.

Landgenote,

Kom ons staan saam in ons strewe om radikale ekonomiese transformasie tot ons land se voordeel te dryf.

In die woorde van President Tambo:

“As ons as mede-Suid-Afrikaners saamwerk, is dit binne ons mag om hierdie land te omskep in 'n land van oorvloed vir almal, waar die nagmerrie van apartheid net 'n vae herinnering uit die verlede sal wees.”

Ek bedank u van harte vir die geleentheid.

Share this page

Similar categories to explore