Aansoek om inligting van die aktekantoor

Die aktekantoor is verantwoordelik vir die registrasie, bestuur en instandhouding van die eiendomsregister van Suid-Afrika. Dit hou ook afskrifte van huweliksvoorwaardekontrakte.

Die aktekantoor het inligting oor die volgende:

  • die geregistreerde eienaar van ’n eiendom
  • die bepalings wat sodanige eiendom raak
  • interdikte en kontrakte ten opsigte van die eiendom
  • koopprys van die eiendom
  • reëls van ’n deeltitelskema
  • ’n afskrif van ’n huweliksvoorwaardekontrak, serwituutaktes, verbande, ens.
  • ’n afskrif van ’n deeltitelplan of die reëls van ’n deeltitelskema.

Voordat jy inligting kan bekom, moet jy die volgende gereed hê:

  • Volle name en/of identiteitsnommer van die eienaar van die eiendom, of minstens sy of haar geboortedatum. (In die geval van ’n regspersoon, is die naam en registrasienommer, indien beskikbaar, nodig.)
  • Die korrekte erfnommer en dorp of plaas se naam en nommer, nie die straatadres nie. (In die geval van ’n deeltitelskema word die gedeelte en naam van skema vereis.)

Vir ’n afskrif van ’n akte of dokument van die aktekantoor moet jy:

  • na enige aktekantoor gaan (die kantoor mag nie inligting gee op versoek van ’n brief of telefoonoproep nie)
  • gaan na die inligtingstoonbank waar 'n amptenaar jou sal help om ’n vorm te voltooi en die prosedure te verduidelik
  • vra om na die eiendom op die stelsel te soek
  • die vereiste bedrag by die kassier betaal. ’n Kwitansie sal saam met jou afskrif van die akte gegee word.

Inligting kan ook elektronies deur DeedsWeb verkry word.

Vir meer inligting skakel 0800 007 095 of besoek jou naaste aktekantoor.

 

Share this page