Kinderonderhoudstoelae

Oor
Wat om te doen
Tydsduur
Hoeveel kos dit
Vorms om in te vul
Kontakbesonderhede

 

 

Oor die kinderonderhoudstoelae

Indien jy hulpbehoewend is, kan jy ’n toelae kry om jou te help om die kind na wie jy omsien, groot te maak.

Hoe weet jy of jy kwalifiseer?

Jy moet:

  • die kind se primêre versorger wees (bv. ouer, grootouer of ’n kind ouer as 16 wat aan die hoof van ’n familie staan). Let wel: As jy nie die kind se ouer is nie, moet jy bewys lewer dat jy die kind se primêre versorger is deur middel van ’n beëdigde verklaring van ’n polisiebeampte, ’n verslag van ’n maatskaplike werker, ’n beëdigde verklaring van die biologiese ouer of ’n brief van die hoof van die skool waar die kind skoolgaan.
  • ’n Suid-Afrikaanse burger of permanente inwoner wees
  • nie meer as R52 800 per jaar verdien indien jy enkellopend is nie. Indien jy getroud is, moet julle gesamentlike inkomste nie meer as R105 600 per jaar wees nie.

Die kind moet:

  • jonger as 18 jaar wees
  • nie in ’n staatsinstelling versorg word nie
  • by die primêre versorger woon, wat nie betaal word om vir die kind te sorg nie.

Jy en die kind moet albei in Suid-Afrika woon.

Let wel: Jy kan nie hierdie toelae ontvang vir meer as ses kinders wat nie jou biologiese of wetlik aangenome kinders is nie.

Hoeveel gaan jy kry?
       
Jy sal R530 per maand per kind kry. (Top-up R530 + R260)

Hoe sal jy betaal word?

Die Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (SASSA) sal die toelae aan jou deur een van die volgende metodes uitbetaal:

  • kontant by ’n spesifieke betaalpunt op ’n bepaalde dag
  • elektroniese inbetaling in jou bank- of Posbankrekening (die bank kan dalk ’n fooi hef vir hierdie diens) 
  • deur ’n instelling wat as administrateur van die toelae optree..

Let wel: Indien jy nie self die geld kan gaan afhaal nie, kan jy ’n gevolmagtigde by die SASSA-kantoor aanwys, of aan iemand anders volmag verleen om die toelae namens jou af te haal.

Wanneer mag die kind se toelae hersien word?

SASSA kan besluit of jou toelae hersien moet word. Jou verklaarde inkomste tydens aansoek om die toelae sal die grondslag vir hierdie besluit vorm. Jy sal drie maande vooraf kennis ontvang van die datum waarop die toelae hersien gaan word, of die datum waarop die lewensertifikaat (dokument wat bewys dat jy steeds leef), ingedien moet word. Indien jy jou geld deur die bank, ’n instelling of gevolmagtigde ontvang, moet jy elke jaar ’n lewensertifikaat by die SASSA-kantoor invul.

Wanneer mag die toelae opgeskort word?

Die volgende kan tot die opskorting van die toelae lei:

  • wanneer jou omstandighede verander
  • die uitslag van ’n hersiening
  • indien jy weier om saam te werk wanneer die kind se toelae hersien word
  • wanneer jy bedrog pleeg of die kind wanvoorstel
  • indien daar ’n fout was toe die kind se toelae goedgekeur is
  • indien die kind nie meer in jou sorg is nie.

Wanneer sal die kind se toelae verval?

Die toelae sal verval wanneer die:

  • kind sterf
  • kind in ’n staatsinstelling opgeneem word
  • die versorger nie die toelae vir drie agtereenvolgende maande opeis nie
  • kind uit die land afwesig is
  • aan die einde van die maand waarin die kind 18 jaar oud word.

Wat jy moet doen

  1. Besoek jou naaste kantoor van die Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (SASSA) en bring die volgende saam:
    • jou 13-syferstaafkode-identiteitsdokument (ID) en geboortesertifikaat van die kind. As jy nie ’n ID of die kind se geboortesertifikaat het nie:
      • Voltooi ’n beëdigde verklaring op ’n standaard SASSA-vorm in die teenwoordigheid van ’n Kommissaris van Ede wat nie ’n SASSA-beampte is nie.
      • Bring die volgende dokumente:
        • ’n Beëdigde verklaring wat deur ’n gerespekteerde persoon onderteken is (soos ’n raadslid, tradisionele leier, maatskaplike werker, predikant of skoolhoof), wat die applikant en die kind ken.
        • Bewys dat jy by die Departement van Binnelandse Sake vir ’n ID en/of geboortesertifikaat aansoek gedoen het.
        • ’n Tydelike ID wat deur die Departement van Binnelandse Sake uitgereik is (indien van toepassing).
        • Doopsertifikaat indien beskikbaar.
        • Pad-na-Gesondheid-kliniekkaart indien beskikbaar.
        • Skoolrapport indien beskikbaar.
    • Bewys van enige onderhoud wat jy vir die kind ontvang.
    • Bewys van jou verdienste.
    • Jou huweliksertifikaat (indien van toepassing).
    • Indien jy geskei is, die hofbevel wat verklaar dat jy toesig oor die kind het.
    • Indien een of albei ouers dood is of vermis word, die doodsertifikaat van die afgestorwene of bewys dat die ouer vermis word, bv. ’n vermistepersoon-verslag van die polisie.
  2. Voltooi ’n aansoekvorm in die teenwoordigheid van die SASSA-beampte (let daarop dat slegs jy as die applikant of ’n SASSA-beampte die aansoekvorm mag invul).
  3. Jy sal ’n kwitansie ontvang. Hou dit as bewys dat jy aansoek gedoen het.

Wat as jou aansoek nie goedgekeur word nie?

Indien jou aansoek nie goedgekeur word nie, sal SASSA jou skriftelik in kennis stel waarom dit onsuksesvol was.

Indien jy nie met die besluit saamstem nie, kan jy by die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling by die nasionale kantoor van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling appèl aanteken, en verduidelik waarom jy van die besluit verskil. Jy moet binne 90 dae nadat jy kennis ontvang het dat jou aansoek onsuksesvol was, appèl aanteken.

Hoe lank neem dit?

  • Dit kan tot drie maande neem om jou aansoek te verwerk.
  • Indien jou aansoek goedgekeur word, sal dit betaal word vanaf die datum waarop jy aansoek gedoen het.

Hoeveel kos dit?

Die diens is gratis.

Vorms om in te vul

Die aansoekvorm is nie aanlyn beskikbaar nie, maar jy kan dit by jou naaste SASSA-kantoor kry.

Wie om te kontak

Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (SASSA)

 

SASSA Toll free: 0800 60 10 11
Email: GrantEnquiries@sassa.gov.za  

Published Date

Share this page