Sorgafhanklikheidstoelae

Oor
Wat jy moet doen
Hoe lank neem dit
Hoeveel kos dit
Vorms om in te vul
Wie om te kontak

 

 

Oor die sorgafhanklikheidstoelae

Kry ’n toelae vir die versorging van ’n kind met ’n ernstige gestremdheid wat voltydse en spesiale versorging  nodig het.

Die sorgafhanklikheidstoelae dek gestremde kinders vanaf geboorte totdat hulle 18 jaar oud word.

Hoe weet jy of jy kwalifiseer?

Jy moet:

  • ’n ouer, primêre versorger of ’n pleegouer wees wat deur die hof aangewys is
  • ’n Suid-Afrikaanse burger of permanente inwoner wees
  • nie meer as R223 200 per jaar verdien as jy enkellopend is nie. As jy getroud is, moet julle gesamentlike inkomste nie meer as R446 400 per jaar wees nie.

Let wel: Hierdie inkomsteperk is nie van toepassing op pleegouers nie.

Die kind moet:

  • jonger as 18 jaar wees
  • nie permanent in ’n staatsinstelling versorg word nie
  • ’n ernstige gestremdheid hê en voltydse en spesiale versorging nodig hê.

Jy en die kind moet albei in Suid-Afrika woon.

Let wel: ’n Staats- mediese beampte moet die kind evalueer voordat die toelae goedgekeur sal word.

Hoeveel sal jy kry?

Jy sal R2 080 per maand kry.

Hoe sal jy betaal word?

Die Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (SASSA) sal die toelae aan jou deur een van die volgende metodes uitbetaal:

  • kontant by ’n spesifieke betaalpunt op ’n bepaalde dag
  • elektroniese inbetaling in jou bank- of Posbankrekening (die bank kan dalk ’n fooi hef vir hierdie diens) 
  • deur ’n instelling wat as administrateur van die toelae optree (bv. welsynsorganisasies).

Let wel: Indien jy nie self die geld kan gaan afhaal nie, kan jy ’n gevolmagtigde by die SASSA-kantoor aanwys, of aan iemand anders volmag verleen om die toelae namens jou af te haal.

Wanneer mag die kind se toelae hersien word?

SASSA kan besluit of jou toelae hersien moet word. Jou verklaarde inkomste tydens aansoek om die toelae sal die grondslag vir hierdie besluit vorm. Jy sal drie maande vooraf kennis ontvang van die datum waarop die toelae hersien gaan word, of die datum waarop die lewensertifikaat (dokument wat bewys dat jy steeds leef), ingedien moet word. Indien jy jou geld deur die bank, ’n instelling of gevolmagtigde ontvang, moet jy elke jaar ’n lewensertifikaat by die SASSA-kantoor invul.   

Wanneer mag die kind se toelae opgeskort word?

Die volgende kan tot die opskorting van die toelae lei:

  • wanneer die kind se omstandighede verander
  • die uitslag van ’n hersiening
  • indien jy weier om saam te werk wanneer die kind se toelae hersien word
  • wanneer jy bedrog pleeg of die kind wanvoorstel
  • indien daar ’n fout was toe die kind se toelae goedgekeur is.

Wanneer sal die toelae verval?

Die toelae sal verval wanneer die:

  • kind sterf
  • kind in ’n staatsinstelling opgeneem word
  • bevoordeelde wat die versorger is, nie die toelae vir drie agtereenvolgende maande opeis nie
  • kind uit die land afwesig is
  • kind 18 jaar oud word.

Wat jy moet doen

  1. Besoek jou naaste kantoor van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (SASSA) en bring die volgende saam:
    • jou 13-syferstaafkode-identiteitsdokument (ID) en geboortesertifikaat. As jy nie ’n ID of geboortesertifikaat het nie:
      • Voltooi ’n beëdigde verklaring op ’n standaard SASSA-vorm in die teenwoordigheid van ’n Kommissaris van Ede wat nie ’n SASSA-beampte is nie.
      • Bring ’n beëdigde verklaring wat deur ’n gerespekteerde persoon onderteken is (soos ’n raadslid, tradisionele leier, maatskaplike werker, predikant of skoolhoof), wat jou naam en ouderdom kan bevestig.
      • Die SASSA-beampte sal jou vingerafdrukke neem en jou na die Departement van Binnelandse Sake verwys om vir die ID aansoek te doen terwyl jou aansoek verwerk word. As jy nie ’n ID kry nie, sal jou aansoek opgeskort word.
      • Bewys dat jy by die Departement van Binnelandse Sake vir ’n ID en/of geboortesertifikaat aansoek gedoen het.
      • ’n Tydelike ID wat deur die Departement van Binnelandse Sake uitgereik is (indien van toepassing).
      • Doopsertifikaat indien beskikbaar.
      • Pad-na-Gesondheid-kliniekkaart indien beskikbaar.
      • Skoolrapport indien beskikbaar.
    • ’n Mediese/evalueringsverslag wat die kind se gestremdheid bevestig.
    • Bewys van jou huwelikstatus.
    • Jou salarisstrokie, bankstate vir die vorige drie maande, of pensioenstrokies, en enige ander bewys van inkomste. (Let wel: dit is nie van toepassing op pleegouers van vlugtelinge nie.) 
    • Indien jy:
      • nie die kind se ouer is nie, bewys dat jy die kind se primêre versorger is deur middel van ’n beëdigde verklaring van ’n polisiebeampte, ’n verslag van ’n maatskaplike werker, ’n beëdigde verklaring deur die biologiese ouer of ’n bief van die skoolhoof van die skool waar die kind skoolgaan
      • die biologiese ouer van die kind en die enigste voorsiener en versorger is, bewys dat jy ’n poging aangewend het om die ander ouer onderhoud te laat betaal
      • werkloos is, bewys van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) of ’n ontslagsertifikaat van jou vorige werkgewer
      • ’n pleegouer van ’n vlugteling is, vlugtelingstatuspermit en vlugteling-ID 
      • die kind se pleegouer is, die hofbevel wat die kind in jou sorg plaas.
      • Let wel: as jy te oud of siek is om na die kantoor te reis om aansoek te doen, kan ’n familielid of vriend namens jou aansoek doen. Die persoon moet ’n brief van jou en/of ’n doktersnota saambring waarin daar verduidelik word waarom jy nie self die kantoor kan besoek nie.
  2. SASSA sal die kind vir evaluering deur ’n staats- mediese beampte verwys voordat die aansoek ingedien word.
  3. Voltooi ’n aansoekvorm in die teenwoordigheid van die SASSA-beampte (let daarop dat slegs jy as die applikant of ’n SASSA-beampte die aansoekvorm mag invul).
  4. Jy sal ’n kwitansie ontvang. Hou dit as bewys dat jy aansoek gedoen het.

Wat gebeur as jou aansoek nie goedgekeur word nie?

Indien jou aansoek nie goedgekeur word nie, sal SASSA jou skriftelik in kennis stel waarom dit onsuksesvol was.

Indien jy nie met die besluit saamstem nie, kan jy by die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling by die nasionale kantoor van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling appèl aanteken, en verduidelik waarom jy van die besluit verskil. Jy moet binne 90 dae nadat jy kennis ontvang het dat jou aansoek onsuksesvol was, appèl aanteken.

Hoe lank neem dit?

  • Dit kan tot drie maande neem om jou aansoek te verwerk.
  • Indien jou aansoek goedgekeur word, sal die toelae betaal word vanaf die datum waarop jy aansoek gedoen het.

Hoeveel kos dit?

Die diens is gratis.

Vorms om in te vul

Die aansoekvorm is nie aanlyn beskikbaar nie, maar jy kan dit by jou naaste SASSA-kantoor kry.

Wie om te kontak

Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (SASSA)

SASSA Toll free: 0800 60 10 11
Email: GrantEnquiries@sassa.gov.za

 

Share this page