President Jacob Zuma: Staatsrede 2015

Staatsrede deur Sy Eksellensie Jacob G Zuma, President van die Republiek van Suid-Afrika, by geleentheid van die Gesamentlike Sitting van die Parlement, Kaapstad,

Speaker van die Nasionale Vergadering (NV),
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP),
Adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering en Adjunkvoorsitter van die NRP,
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa,
Voormalige President Thabo Mbeki,
Voormalige President FW de Klerk,
Hoofregter Mogoeng Mogoeng en al die gewaardeerde lede van die Regbank,
Visepresident van die Pan-Afrikaanse Parlement, Sy Eksellensie mnr Roger Nkondo Dang,
Speaker van die NV van die Verenigde Republiek van Tanzanië en voorsitter van die SAOG se parlementêre forum, die agbare Anne Makinda,
Ministers en adjunkministers,
Premiers en speakers van provinsiale wetgewers,
Voorsitter van Salga,
Hoofde van die Hoofstuk 9-instellings,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers,
Voormalige Speaker van die NV, dr Frene Ginwala,
Hul Majesteite Koning Keru Molotlegi, Koning Toni Peter Mphephu (Ramabulana);
Koning Mpendulo Zwelonke Sigcawu;
Genooide gaste;
Lede van die diplomatieke korps;
Agbare lede;
Mede-Suid-Afrikaners;

Goeienaand, sanibonani, molweni, riperile, dumelang, lotjhani, good evening, ndi madekwana, !gai//goes.

Ek bedank graag die voorsittende beamptes vir die geleentheid om die nasie vanaand  te kan toespreek.

Die jaar 2015 is die 60ste herdenking van 'n historiese oomblik in ons geskiedenis, toe Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing die Vryheidsmanifes in 1955 te Kliptown, Soweto, aanvaar het.

Hulle het onder meer verklaar dat Suid-Afrika aan almal wat daarin woon behoort, swart en wit, en dat geen regering op gesag aanspraak kan maak indien dit nie op die wil van al die mense gegrond is nie.

Dit was 'n kragtige, visioenêre en versoenende verklaring wat die grondslag gelê het vir die nie-rassige demokrasie wat ons sedertdien gevestig het.

Hierdie week het ons ook 25 jaar sedert die vrylating van President Nelson Mandela uit die gevangenis gevier, asook die ontbanning van die bevrydingsorganisasies.

Die vrylating van Madiba was 'n reuse-sprong in die lang pad na vryheid vir die mense van Suid-Afrika as ’n geheel, en het apartheid-kolonialisme ’n nekslag toegedien.
Ons word steeds deur Madiba geïnspireer en leer lesse uit sy erfenis terwyl ons die land opbou.

Landgenote,

Die jaar 2015 is die Jaar van die Vryheidshandves en Eenheid in Aksie om Ekonomiese Vryheid te Bevorder. 

Hierdie jaar gaan ons die ekstra myl loop om 'n verenigde, demokratiese, nie-rassige, nie-seksistiese en vooruitstrewende Suid-Afrika te bou.

Ons gaan ons vanjaar ook herverbind om rassisme en alle verwante onverdraagsaamhede in ons land uit te roei.

Vanjaar gaan ons ook meer belê in die toekoms, deur ons kinders en die jeug oor ons land se ryk erfenis op te voed.

Ons kweek reeds 'n nuwe nasionale identiteit deur die bevordering van nasionale simbole soos die nasionale vlag, die volkslied en die aanhef tot die Grondwet in elke skool.

Van vanjaar af moet skole ook die Afrika-unie se volkslied inoefen ter voorbereiding van die viering van Afrika-maand in Mei, om die besluit van die Afrika-unie in dié verband te implementeer.

Agbare lede,
Hooggeplaaste gaste,

Ons jeug is ons toekoms en ons is baie trots op hul sukses.

Ek versoek u om saam met my, my spesiale gas, die Olimpiese swemkampioen, Chad Le Clos, te verwelkom.

Chad het benewens baie ander uitsonderlike prestasies, die hoogste eerbewys in swem ontvang toe hy in Desember deur die Internasionale Swemfederasie as die wêreld se beste swemmer vir 2014 aangewys is.

Ek is ook gasheer vir drie spesiale meisies van Moletsane Hoërskool in Soweto.

Hulle is Ofentse Mahasha, Hlengiwe Moletsane en Tiisetso Mashiloane. Ofentse en Hlengiwe het die onlangse G20-beraad in Australië bygewoon en besonder goed gevaar; ons is werklik trots op hulle.

Laat my toe, Mevrou die Speaker en die Voorsitter, om ’n ander uitblinker wat as Mej Wêreld vir ons land roem verwerf het, me Rolene Strauss, in absentia geluk te wens.

Ek wil ook graag 'n spesiale gas, die land se Sportster van die Jaar en Banyana Banyana se doelskieter, mej Portia Modise, bekendstel. Baie geluk, Portia.

Agbare lede,
Hooggeplaaste gaste,

Ek wil graag almal bedank wat van hul tyd afgestaan het om ’n bydrae tot die 2015-Staatsrede te lewer. Insette van die publiek het aangedui dat ons mense onder meer bekommerd is oor misdaad, paaie, toegang tot onderwys, jeug-internskapskemas, water, elektrisiteit en bystand aan klein besighede.

Bydraes wat terugvoer vereis, word na staatsdepartemente verwys vir optrede.

Agbare lede,
Hooggeplaaste gaste,

Ons ontmoet mekaar weereens in 'n moeilike ekonomiese klimaat.

Hierdie week het die Internasionale Monetêre Fonds sy groeivooruitskattings van die Bruto Binnelandse Produk vir wêreldwye ekonomiese groei in 2015, met 3,5% afwaarts aangepas.

Ons strewe om 'n groeiteiken van 5% teen 2019 te bereik is in gevaar weens die stadige groei wêreldwyd, sowel as onder meer binnelandse beperkings op energie, vaardighede, vervoer en logistiek.

Wat werkskepping betref, is die vooruitsigte egter meer belowend. StatsSA het twee dae gelede die indiensnemingsyfers vir die laaste kwartaal van 2014 bekendgemaak.

Die verslag toon dat 15,3 miljoen mense tans in Suid-Afrika werksaam is. Werkgeleenthede het met 203 000 toegeneem.

Ons belegging in die jeug werp ook vrugte af. Die belastingaansporing vir werkskepping wat verlede jaar bekend gestel is en hoofsaaklik op die jeug gerig is, vorder baie goed.

Sowat 29 000 werkgewers het tot op hede R2 miljard geëis, vir ten minste 270 000 jong mense.

Ek het verlede jaar 'n teiken van ses miljoen werkgeleenthede oor vyf jaar vir die program aangekondig.

Ons het tot dusver meer as 850 000 werkgeleenthede geskep. Dit beteken ons is oppad om die jaarlikse teiken van een miljoen werkgeleenthede te bereik.

Daarbenewens het omgewingsprogramme soos Werk op Afval, Werk vir Vleilande, Werk vir Water en Werk op Vuur, meer as 30 000 werkgeleenthede geskep en die mikpunt is om meer as 60 000 in die volgende finansiële jaar te skep.

Landgenote,

Ons ekonomie het 'n groot hupstoot nodig. Ek deel graag ons negepuntplan wat daarop gemik is om groei aan te vuur en werk te skep, met u.
1. ’n Oplossing vir die energie-uitdaging.
2. Herlewing van landbou en die landbouverwerkingswaardeketting.
3. Bevordering van veredeling of die toevoeging van waarde tot ons minerale rykdom.
4. Meer doeltreffende implementering van 'n aksieplan met groter impak vir 'n industriële beleid.
5. Aanmoediging om in die private sektor te belê.
6. Moderering van konflik in die werkplek.
7. Die ontsluiting van die potensiaal van klein-, medium- en mikro-ondernemings, koöperasies, township- en landelike ondernemings.
8. Staatshervorming en die bevordering van die rol van maatskappye in staatsbesit; infrastruktuur vir inligtingskommunikasie-tegnologie of die inwerkingstelling van breëband-, water-, sanitasie- en vervoerinfrastruktuur.
9. Operation Phakisa, wat gemik is op die ontwikkeling van die oseaan-ekonomie asook ander sektore.

Landgenote,

Die land ervaar tans ernstige energiebeperkinge wat 'n struikelblok vir ekonomiese groei is en heelwat ongerief vir almal in die land veroorsaak.

Om dié uitdaging te oorkom, is heel bo aan ons program. Ons doen alles in ons vermoë om die energie-uitdaging die hoof te bied.

Landgenote,

Die regering doen alles in sy vermoë om ’n oplossing vir die energietekort in die land te vind.

Ons is deeglik bewus daarvan dat dit inderdaad 'n moeilike tyd vir almal is, maar met die nodige strategieë wat reeds in plek is, sal ons dit die hoof bied.

Ons het 'n plan ontwikkel wat kort-, medium- en langtermynoptrede insluit.

Die kort- en mediumtermynplan behels verbeterde instandhouding van Eskom-kragstasies, verbetering van die kapasiteit om elektrisiteit op te wek en beter bestuur van die vraag na elektrisiteit.

Die langtermynplan behels die finalisering van ons meesterplan vir langtermyn-energiesekuriteit.

As 'n prioriteit gaan ons Eskom se finansies stabiliseer om die energieverskaffer in staat te stel om die huidige situasie te bestuur. In dié verband sal die regering sy verbintenis nakomr deur sowat R23 miljard in die volgende fiskale jaar vir Eskom te oormerk.

Die "Operasiekamer" wat in Desember deur die kabinet op die been gebring is, werk dag en nag saam met Eskom om die elektrisiteitstoevoerstelsel te stabiliseer en beurtkrag te beperk.
Ons moet in hierdie tye saamwerk om oplossings te vind.

Ons doen ’n beroep op alle individue, huishoudings, nywerhede en staatsdepartemente om elektrisiteit te bespaar en sodoende die behoefte aan beurtkrag te verminder.

Die Departement van Openbare Werke het opdrag gekry om te verseker dat al die geboue wat in regeringsbesit is, energiedoeltreffend is.

Omdat die koste van diesel so hoog is, is Eskom aangesê om van diesel na gas oor te skakel as 'n bron van energie vir sy kragopwekkers.

Huishoudings word ook aangemoedig om van elektrisiteit na gas oor te skakel vir kook, verhitting en ander huishoudelike gebruike.

Die konstruksie van die drie nuwe kragstasies by Kusile, Medupi en Ingula, sal 10 000 megawatt kapasiteit tot die nasionale netwerk toevoeg.

Die soeke na alternatiewe energiebronne is ook deurlopend aan die gang.

Tot op hede het die regering 4 000 megawatt van onafhanklike kragverskaffers wat hernubare energiebronne gebruik, aangekoop. 

Die eerste drie bodvensters vir die hernubare energieverkrygingsproses het meer as R140 miljard van private beleggers gelok.

Altesaam 3 900 megawatt hernubare energie is ook verkry, waarvan 32 projekte met 'n kapasiteit van net meer as 1 500 megawatt voltooi is en aan die rooster verbind is.

Eskom self het die konstruksie van die Sere-windplaas, wat reeds 100 megawatt se krag opwek, lank voor die beoogde bekendstelling in Maart vanjaar voltooi.

Die regering het ook in Desember 2014 begin om 2 400 megawatt nuwe steenkool-aangedrewe kragopwekkingskapasiteit van onafhanklike kragprodusente te verkry.

Die verkrygingsproses vir 2 400 megawatt nuwe gas-aangedrewe krag sal in die eerste kwartaal van die nuwe finansiële jaar begin.

Altesaam 2 600 megawatt hidro-elektriese kapasiteit sal van die SAOG-streek verkry word.

Met betrekking tot die langtermyn-energiemeesterplan, sal ons na gas, petroleum, kernkrag, hidrokrag en ander bronne as deel van die energiemengsel kyk.
Suid-Afrika is omring met gasryke lande, en ons het ook skaliegasdeposito's in ons eie Karoo-streek ontdek.

Operation Phakisa se Oseaan-ekonomie-inisiatief wat verlede jaar van stapel gestuur is, beloof ook om meer olie- en gasbronne uit te wys, wat positiewe veranderings in ons land en streek teweeg sal bring.

Die regering ondersoek ook die verkryging van die 9 600 megawatt kern-bouprogram soos goedgekeur deur die Geïntegreerde Hulpbronplan 2010–2030.

Tot op hede het die Regering inter-regeringsooreenkomste onderteken en ondernemer-paradewerkswinkels gehou waartydens vyf lande hul voorstelle oor kernkrag aangebied het.

Dit sluit die Verenigde State van Amerika, Suid-Korea, Rusland, Frankryk en China in.

Al hierdie lande sal betrokke wees by 'n regverdige, deursigtige en mededingende verkrygingsproses om 'n strategiese vennoot of vennote te kies om die kernbouprogram te onderneem.

Ons doelwit is om die eerste eenheid teen 2023 aan die rooster te koppel, net betyds vir Eskom om deel van sy verouderde kragsentrales te sluit.

Wat hidrokrag betref, sal die Grand Inga Hidro-elektriese-projekvennootskap met die Demokratiese Republiek van die Kongo meer as 48 000 megawatt skoon hidro-elektrisiteit genereer. Suid-Afrika sal toegang tot meer as 15 000 megawatt hê.

Ter wille van volhoubaarheid sal die regering strategiese vennootskappe vir die ontwikkeling van vaardighede met ons vennootlande in die Energie-bouprogram sluit; dit sal ook plaaslik vaardighede ontwikkel.

Landgenote,

Daar is steeds 3,4 miljoen huishoudings in die land wat nie elektrisiteit het nie.

In die Staatsrede van Junie 2014 het ek aangekondig dat infrastruktuur-bystand aan spesifieke munisipaliteite in die land gegee sal word.

Befondsing vir elektrifisering is in die 2015/16 finansiële jaar aan die volgende munisipaliteite voorsien:
Amathole-distriksmunisipaliteit, Umzinyathi-distriksmunisipaliteit, Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit, Lukhanji-munisipaliteit en die OR Tambo-distriksmunisipaliteit.

Mede-Suid-Afrikaners,

Terwyl ons die energie-uitdagings in ons land aanpak, moet ons ook koperkabel- en metaaldiefstal beveg.
Die regering sal strenger maatreëls instel om hierdie ernstige misdaad die hoof te bied.

Landgenote,

Gedurende die jaar van die 60ste herdenking van die Vryheidsmanifes, het grond een van die belangrikste faktore geword in die strewe om die ongelykhede van die verlede reg te stel.

Verlede jaar het ons ’n geleentheid vir mense geskep om grondeise in te dien. Meer as 36 000 grondeise is nasionaal ingedien en die afsnydatum is 2019.

Ons ondersoek ook die 50/50-beleidsraamwerk, wat relatiewe regte vir mense wat op plase woon en werk voorstel. 50 boerdery-ondernemings sal as 'n loodsprojek identifiseer word.
Ooreenkomstig ons nuwe voorgestelde wette, sal 'n plafon vir grondbesit op 'n maksimum van 12 000 hektaar bepaal word.

Buitelandse burgers sal nie toegelaat word om grond in Suid-Afrika te besit nie, maar sal in aanmerking kom vir 'n langtermyn-huurkontrak.

In dié verband sal die Regulering van Grondbesit Wetsontwerp vanjaar in die Parlement ter tafel gelê word.

Deur die Grondhervormingsprogram is meer as 90 000 hektaar grond aan kleinboere, plaasbewoners en huurarbeiders toegeken.

Ooreenkomstig die Wet op Eiendomswaardering is die proses om die Kantoor van die Waardeerder-generaal te vestig op dreef.
Sodra dit geïmplementeer is, sal die wet ’n einde maak aan die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper as ’n metode vir die verkryging van grond deur die staat.

Landgenote,

Landbou is ’n katalisator vir groei en voedselsekuriteit.

Ons werk saam met die private sektor om ’n landboubeleid-aksieplan te ontwikkel, wat een miljoen hektaar onderbenutte grond oor die volgende drie jaar in volle produksie sal bring.

Onder die belangrikste ingrypings vanjaar, sal ons die vestiging van agri-parke of koöperatiewe en saamwerkgroepe in elk van die 27 armste distriksmunisipaliteite bevorder om landelik ekonomieë te transformeer. 

Aanvanklike befondsing van R2 miljard is beskikbaar gestel vir die Agri-park-inisiatief.

Ons sal ons Agro-verwerkingsuitvoere, wat vinnig uitgebrei het veral na nuwe markte in Afrika en China, verder verbeter. Ons het byvoorbeeld reeds landbou-handelsprotokolle vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse mielies en appels na China gesluit. 

Die uitvoer van appels alleen sal na verwagting R500 miljoen in buitelandse valuta oor drie jaar inbring.

'n Goeie storie om te vertel wat landbou betref, is die sukses van 'n paar van ons opkomende boere en kleinboere.

In die Vhembe-distriksmunisipaliteit in Musina, het die provinsiale regering van Limpopo die Nwanedi-kluster wat uit 300 boere bestaan wat groente op net meer as 1 300 hektaar vir handelsdoeleindes kweek, ondersteun.

Die kluster het reeds meer as 2 500 werkgeleenthede geskep, aangesien groenteboerdery hoogs arbeidsintensief is.

Dit is ’n plesier om vandag die wenner van die 2014 Landbou Top Vroulike Entrepreneur-toekenning, me Nokwanele Mzamo, van Kirkwood in die Oos-Kaap, in ons midde te hê.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,

Ons ingrypings om die vervaardigingsektor te ondersteun werp vrugte af.

Ons motor-beleggingskema het in 2013 beleggings ter waarde van R24,5 miljard van die private sektor ontsluit, en uitvoere van motors en motorkomponente ter waarde van R103 miljard.

Ons het 'n wêreldklas motorsektor op die vasteland van Afrika gebou, wat na meer as 152 lande uitvoer.

Die leer-en-skoeiselsektor het ook gegroei tot 60 miljoen paar skoene, en uitvoere het met 18% gegroei, wat 'n beduidende voordeel vir die handelsbalans beteken.

Die Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling toon dat Suid-Afrika sy direkte invloei van buitelandse beleggings in 2013 tot R88 miljard verdubbel het, terwyl 2014 projeksies ook positief is.

Die vervaardigingsektor is swaar getref deur die wêreldwye finansiële krisis.

Die regering het meer as R2,8 miljard aan maatskappye in die sektor toegesê deur die Manufacturing Competitiveness Enhancement Programme.

Ons is baie tevrede met die reaksie van ons vervaardigers wat hulle daartoe verbind het om meer as R12,4 miljard in die private sektor te belê. Dit is inderdaad 'n baie goeie storie om te vertel.

Daarbenewens het ons ’n program bekendgestel waardeur ons swart nyweraars soek en ontwikkel om transformasie te bevorder.

Landgenote,

Teen die agtergrond van die sukses wat in die vervaardigingsektor behaal is, is ons strewe om groei aan te vuur, goed op dreef.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,

Om buitelandse vaardighede vir ons groeiende ekonomie te lok, sal ons dialoog voer met verskeie belanghebbendes oor die migrasiebeleid.

Ons sal ook voorkeur gee aan die hersiening van visumregulasies om 'n balans te bewerkstellig  tussen nasionale veiligheid en groei in die toerismebedryf.

Landgenote en vriende,

In die Staatsrede van Junie 2014 het ek gepraat oor die behoefte om die mynbousektor te stabiliseer en 'n stabiele arbeidsomgewing te bevorder.

Ons was toe bekommerd oor die vlaag van lang en soms gewelddadige stakings.

Die implementering van 'n aantal programme onder die Raamwerk-ooreenkoms vir 'n Volhoubare Mynbedryf het gesorg vir relatiewe stabiliteit en optimisme in die mynbousektor, wat die ruggraat van ons ekonomie is.

Misdaadbestrydingsforums vir myne is in Noordwes, Limpopo, die Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng gevestig.

Die regering sal die ooreenkomste wat met die sakewêreld en die arbeidsektor aangegaan is, wat die oorweging van 'n nasionale minimumloon sal insluit, implementeer.

Ons het ons in verlede jaar se Staatsrede ook daartoe verbind om verwaarloosde myndorpe te vernuwe, en heelwat vordering in dié verband is reeds gemaak.

Altesaam R2,1 miljard se omheinings vir hierdie doel is reeds opgerig en R290 miljoen is goedgekeur vir opgradering van informele nedersettings in Mpumalanga, Noordwes, Gauteng, die Noord-Kaap, Limpopo en die Vrystaat.

133 informele nedersettings word deur die Nasionale Ondersteuningsprogram vir Opgraderings geassesseer of voorberei vir opgradering.

32 nedersettings word opgegradeer en 87 behuisingsprojekte word in die voorkeurmyndorpe geïmplementeer.

Wat belangrik is, is dat die regering, die mynbousektor en die Bankvereniging van Suid-Afrika 'n sosiale kontrak vir die ontwikkeling van volhoubare menslike nedersettings geteken het.

Die regering voorsien ook steeds sosiale ontwikkelingsbystand in mynbougemeenskappe. Ander bystand sluit in tegniese kundigheid met betrekking tot geïntegreerde ontwikkelingsplanne en die ontwikkeling van spesiale ekonomiese sones.

Die myndorpe word ook bygestaan met die implementering van die ‘Terugkeer na Basiese Waardes’-munisipale diensleweringstrategie.

Daar word inderdaad  baie gedoen om ons myndorpe op te bou.

Die regering hersien ook mynmaatskappye se nakoming van die teikens vir die 2014-mynbouhandves.

Ek het die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne na die Parlement terugverwys vir die regstelling van 'n paar konstitusionele tekortkominge en ander kwessies.

Landgenote,

In reaksie op versoeke van die sakesektor, het die regering omgewingsimpakstudies en aansoeke vir water- en mynregte gesinchroniseer en 'n maksimum van 300 dae vir die uitreiking van al hierdie magtigings gestel.

Daarbenewens sal ons ook 'n een-stop inter-departementele fasiliteit vestig om aandag aan beleggers se klagtes en probleme te gee.

Mede-Suid-Afrikaners,

In 2015 sal arbeidswetgewing verder verbeter word om werkers se regte nog meer te bevorder.

Die Departement van Arbeid sal die sektorale vasstellings van landbou, bosbou, private sekuriteit, asook die groot- en kleinhandelsektore hersien.

Ons verwag dat die Wet op Werkverskaffingsdienste van 2014, wat formeel 'n openbare werkverskaffingsdiens vestig, gefinaliseer sal word..

Die wetgewing reguleer ook formeel die praktyke van private werkverskaffingsburo’s en tydelike werkverskaffingsdienste om die misbruik van niksvermoedende werksoekers te voorkom.

Daarbenewens sal die Wet op Werkloosheidsversekering van 2001 gewysig word om voordele aan begunstigdes te verbeter, en sluit staatsamptenare in die toepassing van die Wet in.

Agbare lede en vooraanstaande gaste,

Kleinsake is groot besigheid.

Die regering sal 30% van toepaslike kategorieë van staatsverkryging opsysit vir die aankoop van klein-, medium en mikro-ondernemings en koöperatiewe, asook township-  en landelike ondernemings.

Ons sal ook voortgaan om geleenthede vir die jeug te bevorder.
Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap het in die vorige finansiële jaar R25 miljoen aan 765 mikro-ondernemings wat in jongmense se besit is, landwyd uitbetaal.

Die agentskap het ook 'n vennootskap gesluit met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Finansiële Agentskap vir Klein Ondernemings in 'n drieledige vennootskap wat tot 'n fonds van R2,7 miljard vir jong mense gelei het.

Landgenote,

Die jaar 2015 is die begin van die eerste fase van die implementering van  breëband. Die regering sal kantore in agt distriksmunisipaliteite koppel.

Hulle is Dr Kenneth Kaunda in Noordwes, Gert Sibande in Mpumalanga, OR Tambo in die Oos-Kaap, Pixley ka Seme in die Noord-Kaap, Thabo Mofutsanyane in die Vrystaat, Umgungundlovu en Umzinyathi in KwaZulu-Natal, en Vhembe in Limpopo.

Die regering het ook besluit om Telkom aan te wys as die leidende agentskap om te help met die implementering van breëband.

As deel van 'n verdere poging om groei aan te vuur deur maatskappye in staatsbesit te ondersteun, is prosesse aan die gang om 'n 90-dag-omkeerstrategie te implementeer, wat daarop gemik is om die finansies van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te stabiliseer.

Gevolglik sal sommige van die internasionale roetes wat teen ’n verlies bedryf word, uitgefaseer word.

Maar ons sal dit op so ’n manier doen dat dit nie ’n negatiewe impak op reis, handel en toerisme tussen Suid-Afrika en die wêreld sal hê nie.

Landgenote,

Die Nasionale Infrastruktuur-ontwikkelingsprogram is steeds 'n belangrike werkskepper en katalisator vir ekonomiese groei.

Water is 'n kritieke hulpbron vir ekonomiese groei en 'n beter lewensgehalte. Verskeie projekte wat op die verskaffing van water vir industriële en huishoudelike gebruik gemik is, is in die implementerings- of beplanningsfase regoor die land.

Groot projekte sluit in die Umzimvubu-waterprojek in die Oos-Kaap en Jozini-dam in Umkhanyakude in KwaZulu-Natal, asook projekte in Bosbokrand in Mpumalanga en fase een van die Mokolo Krokodil-waterversterkingsprojek in Limpopo.

Vordering word gemaak met die verbetering van watertoevoer na gebiede wat deur tekorte geraak word, soos die Makana-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap, die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit in Noordwes, en Giyani in Limpopo waar ons die lewering van water aan 55 dorpe in Oktober verlede jaar gevier het.

Laat my toe, agbare Speaker en Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, om almal in die land aan te moedig om water te bespaar. Elke druppel tel. Die land verloor R7 miljard per jaar weens waterverliese.

Om hierdie uitdaging aan te pak, sal die regering deur die Departement van Waterwese en Sanitasie, 15 000 vakmanne of loodgieters oplei wat lekkende krane in hul plaaslike gemeenskappe sal herstel.

Dit is vir ons 'n plesier om die wenner van die Toekennings vir Vroue in Waterbewaring, me Mapule Phokompe van Mahikeng in Noordwes, as ‘n spesiale gas te verwelkom.

Danksy die infrastruktuurprogram word vervoernetwerke steeds uitgebrei en paaie verbeter, wat 'n goeie teken vir ekonomiese groei is.

Die Departement van Vervoer sal sowat R9 miljard aan die onderhoudstoelae vir provinsiale paaie of die Sihamba Sonke-program bestee en R11 miljard aan die opgradering en instandhouding van paaie wat nie aan tolgeld onderhewig is nie.

Meer as R6 miljard sal in hierdie finansiële jaar in 13 stede bestee word om geïntegreerde openbare vervoernetwerke te beplan, te bou en te bedryf.
Ons sal ook voortgaan om die infrastruktuur in skole en instellings vir hoër onderwys te verbeter om 'n bevorderlike omgewing vir leer en onderrig te skep.

Deur die Inisiatief vir Versnelde Lewering van Skoolinfrastruktuur, wat deel is van die Nasionale Infrastruktuurplan, is 92 nuwe skole tot op hede voltooi en 108 is in aanbou.

Ongeveer 342 skole het vir die eerste keer water gekry.

351 skole het behoorlike sanitasie gekry, en 288 het elektrisiteit gekry.

Ons gaan vooruit. Ons is 'n nasie aan die werk.

Die regering het 16 terreine vir die bou van 12 nuwe tegniese en professionele onderwys- en opleidingskollege-kampusse en die opknapping van twee bestaande kampusse identifiseer.

Werk gaan ook voort om die drie splinternuwe universiteite, Sol Plaatjie in die Noord-Kaap, die Universiteit van Mpumalanga en die Sefako Makgatho Gesondheids- en Verwante Wetenskappe Universiteit, te vestig.

Agbare lede,

Ons lewer steeds huise aan ons mense. Teen 30 September 2014 is altesaam meer as 50 000 huise in die subsidie- en bekostigbare behuisingsektore gelewer.

Die Regering sal ook 5 000 behuisingsgeleenthede vir militêre veterane voorsien.

Hierbenewens werk die regering ook daaraan om die agterstand van titelaktes vir voor- en ná-1994-behuisingsvoorraad, uit te wis.

Mevrou die Speaker en Mevrou die Voorsitter,

Ons het die afgelope jaar ’n paar innoverende programme bekendgestel om die Nasionale Ontwikkelingsplan te implementeer.

Verlede jaar het ons met Operation Phakisa, 'n resultaat-gedrewe laboratoriumbenadering tot die beplanning en uitvoering van programme, begin.

Met betrekking tot die oseaan-ekonomie, is Operation Phakisa  gemik op die ontsluiting van geleenthede in die skeeps-, vissery-, akwakultuur-, mynbou-, olie-en-gas-, biotegnologie- en toerisme-sektore.

As deel van die Operation Phakisa-inisiatief is ons verbind tot ’n R9,2 miljard-belegging in gas-en olie-eksplorasie in die Saldanhabaai-hawe.

Die Operation Phakisa-inisiatief vir die Verbetering van Ideale Klinieke, Realisering en Instandhouding is gemik op die bevordering van doeltreffendheid en professionaliteit in klinieke.

Ons sal nou na Operation Phakisa in die mynbousektor kyk. Ek het opdrag aan die regering gegee om in vennootskap met die mynbousektor wen-wen-oplossings vir die veredeling van ons minerale hulpbronne te ontwikkel.

Landgenote en vriende,

Oor die afgelope vyf jaar het die regering beduidende vooruitgang ten opsigte van gesondheidsorg gemaak.

Ons gaan vanjaar 'n massiewe program van stapel stuur om tuberkulose (TB) hok te slaan,  wat veral op drie groepe sal fokus, naamlik oortreders in Korrektiewe Dienste-fasiliteite, mynwerkers, en gemeenskappe in myndorpe.

As deel van die stryd teen MIV en vigs, is die staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy, Ketlaphela, gestig wat sal help om anti-retrovirale middels aan die Departement van Gesondheid te verskaf.

Mevrou die Speaker en Mevrou die Voorsitter,

Ons moet steeds harder saamwerk om misdaad te beveg en veiliger gemeenskappe te verseker.

Ons maak vordering in die stryd teen misdaad teen vroue en kinders.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Ondersoekeenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe het gesorg vir 659 lewenslange vonnisse teen oortreders wat misdade teen vroue en kinders gepleeg het.

Ons is 'n demokratiese staat en ons erken die gemeenskap se reg om te protesteer. Ons doen egter 'n beroep op gemeenskappe om protesoptogte binne die bestek van die wet te hou en om dit vreedsaam te laat verloop soos in die Grondwet uiteengesit.

Die polisie het 13 575 aangetekende openbare orde-voorvalle suksesvol onder beheer gebring; dit het 1 907 onrus-verwante en 11 668 vreedsame voorvalle ingesluit.

Die stryd teen korrupsie word voortgesit deur die Anti-Korrupsie Inter-ministeriële Komitee.

Die regering het sewe anti-korrupsie-instellings en 17 wette in plek wat daarop gemik is om korrupsie te bestry. Dit is 'n aanduiding dat die regering 'n daadwerklike poging aanwend om hierdie plaag wat die land teister ‘n nekslag toe te dien.

In die 2013/14 finansiële jaar is 52 mense skuldig bevind in sake waarby meer as R5 miljoen betrokke was.

31 staatsamptenare is in die eerste kwartaal van 2014/15 skuldig bevind en bevriesingsopdragte ter waarde van R430 miljoen is verkry.

Om korrupsie te voorkom en etiese regeringsbestuur  te bevorder, het ek in Desember die Wet op Openbare Administrasie en Bestuur onderteken, wat staatsamptenare onder meer verbied om sake met die staat te doen.

Landgenote,

Die kabinet het kragtige en geïntegreerde ingrypings goedgekeur om die bose aanslag van renosterstropery in die land te bekamp.

Die ingrypings sluit in deurlopende gesamentlike operasies met sleutel-buurlande, verbeterde intelligensie-insameling en verbeterde beskermingsmaatreëls in parke en provinsiale reservate waar renosters teenwoordig is.

Die regering het ook beduidende vooruitgang gemaak in die vestiging van 'n Agentskap vir Grensbestuur om alle grensposte te bestuur en sekuriteit te verbeter.

Om toegang tot identiteitsdokumente verder te verbeter, sal landsburgers van vanjaar af aansoek kan doen vir die nuwe Slim ID-kaart by hul plaaslike bank, danksy vennootskappe tussen die Departement van Binnelandse Sake en sommige banke in die land.

Mevrou die Speaker en Mevrou die Voorsitter,

Die bou van 'n staat wat omgee, doeltreffend is en op burgers se behoeftes reageer, bly 'n prioriteit.

In die 2014-Staatsrede ek het gesê ons sal voortgaan om die lewens van mense met gestremdhede te verbeter en hul belange te bevorder. In Desember verlede jaar het die  die Konsep Nasionale Beleid vir die Regte van Gestremdes vir openbare kommentaar vrygestel.

Landgenote,

Plaaslike regering is almal se besigheid. Ons moet dit laat werk.

Ons het die "Terug na Basiese Waardes"-program bekendgestel om goeie regeringsbestuur en doeltreffende administrasie te bevorder deur vermorsing uit te skakel, openbare fondse verstandig te bestee, bekwame personeel aan te stel, en deursigtigheid en aanspreeklikheid in munisipaliteite te verseker.

Die Geïntegreerde Stedelike Ontwikkelingsraamwerk wat in Junie verlede jaar aangekondig is,  is deur die  goedgekeur.

Mede-Suid-Afrikaners,

Om by te dra tot die bou van 'n beter Afrika, het Suid-Afrika volgehou om vrede en veiligheid en plaaslike ekonomiese integrasie in die vasteland te ondersteun.

'n Aantal belangrike uitkomste het hieruit voortgevloei:

Die African Capacity for Immediate Response to Crises (ACIRC), waarvan Suid-Afrika 'n bydraende en stigterslid is, het in werking getree.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en SA Polisiediens het voortgegaan om ywerig by te dra tot die voorkoming van konflik en om vrede op die vasteland te bewaar.

Suid-Afrika het ook voortgegaan om inisiatiewe konflikoplossing wat deur die Adjunk-president gelei is, in Lesotho, Sri Lanka en Suid-Soedan te ondersteun.

Ekonomiese samewerking met ons BRICS-vennote is versterk toe die eerste twee inter-regeringsooreenkomste by geleentheid van die sesde BRICS-beraad gesluit is.

Dit was die Ooreenkoms oor die Nuwe Ontwikkelingsbank en die Verdrag tot die Stigting van 'n Voorwaardelike Reserwe-ooreenkoms.

Agbare Speaker en Agbare Voorsitter,

Lande van die ontwikkelde Noorde bly belangrike strategiese vennote vir Suid-Afrika, waardeur die land in staat is om sy nasionale en buitelandse beleid te bevorder.

Ons het 'n waardevolle vennootskap met die Europese Unie in, onder meer, die Infrastruktuur-beleggingsprogram vir Suid-Afrika ter waarde van ongeveer R1,5 miljard.

Die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika tot ná September 2015 en 'n belofte om vredesinisiatiewe op die vasteland wat deur Afrika gelei word te ondersteun, is onder die belangrike uitkomste van die Verenigde State-Afrika Leiersberaad wat  verlede jaar in die VSA gehou is .

Landgenote,

Op 'n multilaterale vlak is 2015 die 70ste herdenking van die Verenigde Nasies, wat die behoefte aan transformasie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en ander internasionale instellings onder die vergrootglas plaas.

Landgenote,

Nasionale bevrydingshelde, Moses Kotane en JB Marks, sal in Maart in Suid-Afrika herbegrawe word.
Ons dank die regering en die mense van die Russiese Federasie dat hulle ons helde se stoflike oorskot vir soveel jare met waardigheid versorg het.

Wat sport betref, sal die Suid-Afrikaanse span aan die 2015 Afrika-Spele in die Kongo-Brazzaville deelneem.

Die Springbokke sal aan die Rugby-wêreldbeker wat in September vanjaar in Engeland gehou word, deelneem.

Die Proteas is in Australië en Nieu-Seeland om deel te neem aan die Internasionale Krieketraad se Krieket-wêreldbeker. Alle Suid-Afrikaners moet, soos gewoonlik, saamstaan om ons nasionale spanne te ondersteun.

Ons moet ook ons Bafana Bafana waardeer. Ek dink u sal met my saamstem dat hulle hierdie keer met vlieënde vaandels gekwalifiseer het.

Hulle het in die sogenaamde “groep van die dood" meegeding en hulle het hul bes gedoen.

Ons moet hulle ondersteun; hulle het ons trots gemaak.

Agbare lede,

Ons sal voortgaan om 'n gesonde lewenstyl te bevorder en burgers aan te moedig om nie te rook nie, en nie alkohol en dwelms te misbruik nie.

In dié verband sal ons op 10 Mei die Move for Health-dag, 'n internasionale inisiatief wat deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie bevorder word, vier. Die dag val ook saam met die herdenking van die inhuldiging van oud-President Mandela.

Landgenote,
Mede-Suid-Afrikaners,

Ons het die afgelope jaar baie bereik. Ons glo dat ons negepunt- ekonomiese ingrypingsplan vir die ekonomie  hierdie prestasies sal konsolideer, en broodnodige groei sal aanvuur.

Gedurende hierdie jaar waarin ons op die Vryheidshandves en Eenheid in Aksie om Ekonomiese Vryheid te Bevorder fokus, herverbind ons ons tot eenheid en harde werk, om deurlopende sukses in ons pragtige land te verseker.

Saam beweeg ons Suid-Afrika voorentoe!

Ek bedank u.

Share this page

Similar categories to explore